AfriForum se Standerton-tak loods fase twee van skoonmaakprojek


Die AfriForum-tak in Standerton het op 7 Maart 2017 met fase twee van die skoonmaakprojek by die Lombaardstraat-begraafplaas in dié dorp begin.
Tydens fase een het die tak met die hulp van ’n plaaslike kontrakteur die begraafplaas se grasperke gesny. Gedurende fase twee beplan AfriForum om tussen die grafte skoon te maak.

“Weens die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit se nalatigheid word geen instandhouding in die begraafplaas gedoen nie. Meer selfdoeninisiatiewe moet deur gemeenskappe gedryf word om te verseker dat ons dorpe skoon en netjies is en ’n tuiste kan wees waar mense hulself wil vestig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Ons beplan om die begraafplaas in blokke op te deel en borde op te rig wat aandui wie verantwoordelik is vir die skoonhou van die area. Ons gaan gemeenskapslede en besighede ook aanmoedig om by ’n permanente instandhoudingsprojek betrokke te raak om die begraafplaas skoon en netjies te hou,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.
“Om saam te staan is die antwoord en oplossing om ’n verskil in ons gemeenskappe te maak. Ons kan nie meer toelaat dat die nalatigheid van munisipaliteite veroorsaak dat ons dorpe agteruitgaan nie,” voeg Coetzer by.

Indien lede van die publiek by hierdie projek betrokke wil raak of insette wil lewer kan hulle die tak se noodnommer (071 209 2978) skakel.
Ondersteun AfriForum se skoonmaakprojekte in Standerton deur “Skoonmaak” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings