AfriForum se Standerton-tak help Kosmospark-gemeenskap


AfriForum se Standerton-tak het Woensdag 20 Maart 2019 water aan die Kosmospark-uitbreiding se gemeenskap verskaf ná daar vir meer as ’n week geen watertoevoer beskikbaar was nie.

Standerton Oasis het 50 5-liter waterbottels geborg waarmee lede van die Standerton-tak 250 liter skoon water vir die gemeenskap kon aflaai. Taklede het nog byna 3 000 liter water uit hul huise in kleiner kanne getap en vir huishoudelike gebruik aan die gemeenskap verskaf
Water is ’n basiese behoefte in enige mens se bestaan en die gemeenskap is raadop om sonder water klaar te kom, sonder enige kennisgewings of antwoorde daarvoor. Water is onder meer by die volgende strate uitgedeel: Buffalostraat, Steenboksingel, Bonteboksingel, Wildebeessingel, Zebrasingel, Duikersingel, Dakotalaan en die Spritfire- en Meteorstegies by die Giant Kafee.

“Dit is vir my ’n eer dat ons tak die Kosmospark-gemeenskap met klein dade soos hierdie kan ondersteun. Ons versoek die Standerton-gemeenskap om aktief by die tak betrokke te raak – gewillige hande en ondersteuning maak sulke bydraes moontlik,” sê Pieter Botha, voorsitter van die Standerton-tak.

Soortgelyke plasings