AfriForum se Standerton-buurtwag help om dorp te beveilig


AfriForum se Standerton-buurtwag het op 15 Februarie 2019 aan ’n sigbaarheidsoperasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deelgeneem waartydens vyf arrestasies gemaak is. Dié arrestasies was onder meer vir die besit van dwelms, dronk bestuur en die misbruik van alkohol in die openbaar. ’n Onwettige kroeg is ook tydens dié sigbaarheidsoperasie toegemaak.

Die sigbaarheidsoperasie het ’n gesamentlike deelname van agttien AfriForum-lede, ses AP-lede, een beampte van Kasselman Veiligheid en agt lede van die gemeenskap­polisiëringsforum (GPF) ingesluit.

“Ons besef dat dit belangrik is om saam met die plaaslike rolspelers in die gemeenskap te werk. Saam kan ons groter take aanpak en Standerton weer ’n veilige omgewing maak,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Dié buurtwag het ook in Februarie taktiese opleiding in die hantering van vuurwapens ontvang. Die opleiding is deur Hendrik Mills aangebied en 15 lede van dié AfriForum-buurtwag het dit bygewoon. Tydens die opleiding het buurtwaglede ook geleer hoe om vuurwapenaanvalle af te weer.

“Lede wat die opleiding ontvang het voel dat die tegnieke wat hulle geleer het werklik sinvol was en dat dit verder tot die beveiliging van hul omgewing kan bydra,” sluit Moll af.

Soortgelyke plasings