|

AfriForum se Springs-tak skep hoop tydens boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Springs het op 11 Oktober 2019 tien soetdoringbome by die Hoër Tegniese Skool in Springs geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Cornel Swart, AfriForum se Springs-takvoorsitter, het AfriForum vanjaar meer as 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie net besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Swart.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom, as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig dorpe egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die ideale geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Springs onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sluit Swart af.

Stuur ’n e-pos aan marie.naude@afriforum.co.za en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak se omgewingsakeportefeulje betrokke.

Soortgelyke plasings