|

AfriForum se Springs-tak knap eetsaal by tehuis op

AfriForum se Springs-tak het onlangs die vloer van die eetsaal by die Rus ’n Bietjie-tuiste vir bejaardes vervang. Dít volg nadat die tehuis die publiek verskeie kere vir hulp genader het en AfriForum besluit het om betrokke te raak.

’n Gesondheidsinspekteur besoek die tehuis elke ses weke en het die eetsaal as ’n gesondheidsgevaarsone geïdentifiseer.

“Ons bedien daagliks tussen 20 en 40 etes aan inwoners. Hoewel daar baie areas is wat herstelwerk benodig, het ons die herstel van die eetsaal as noodsaaklik geprioritiseer. Ons het ’n versoek vir finansiële hulp gerig en is baie dankbaar dat AfriForum bereidwilligheid was om te help. Dit gebeur maklik dat die gemeenskap van ons bejaardes vergeet,” sê Ludwig Zuhlfdorss, ’n trustee by die Rus ’n Bietjie-tuiste vir bejaardes.

 

“As burgerregteorganisasie fokus AfriForum op projekte wat die gemeenskap dien; daarom is dit vir ons belangrik om by projekte soos hierdie betrokke te raak. Ons is egter ook afhanklik van ons lede se bydraes en daarvoor is ons dankbaar. Saam is ons sterker – ons moedig die gemeenskap aan om aktief by die belange van ons dorp betrokke te raak,” sê Richardt Lubbe, voorsitter van plaaslikeregeringsake by AfriForum se Springs-tak.

Raak by die Springs-tak betrokke: SMS jou naam en van na 45342 (R1) of stuur e-pos na springs.afriforum@gmail.com.

Soortgelyke plasings