|

AfriForum se Springs-tak dien strafregtelike klagtes teen munisipale bestuurder in

Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 25 Julie 2019 strafregtelike klagtes teen dr. Imogen Mashazi, munisipale bestuurder van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit, ingedien. Dié klagtes handel oor die swak munisipale bestuur en besoedeling van die Blesbokspruit.

Ná verskeie klagtes vanuit die gemeenskap ontvang is oor rioolstorting in die Blesbokspruit, het AfriForum se Springs-tak besluit om in te gryp. Strafregtelike klagtes is ingevolge Artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998 (wetno. 36 van 1998) – wat bepaal dat enige persoon wat water en waterbronne opsetlik besoedel daarvoor aanspreeklik gehou moet word – aanhangig gemaak. Die indiening van die klagtes volg ook nadat die tak reeds verskeie pogings aangewend het om met Mashazi te vergader, asook ’n petisie van stapel gestuur het en skrywes aan die munisipaliteit oorhandig het. Hierdie pogings word egter al vir langer as twee jaar geïgnoreer, selfs nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) se geakkrediteerde watertoetse, wat AfriForum uitgevoer het, duidelik aan die munisipaliteit toon dat die E.coli-vlakke onregmatig hoog is.

Artikel 24(a) van die Grondwet bepaal dat almal geregtig is op ’n omgewing wat hul gesondheid en welstand in ag neem en dat die omgewing ook vir toekomstige generasies beskerm moet word.

Volgens Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak, word geen aandag egter aan hierdie probleem geskenk nie. “Die Blesbokspruit is ’n voedingsaar vir die Vaalrivier en verskeie inwoners van die informele nedersetting gebruik daagliks van hierdie besoedelde water. Boonop word die Blesbokspruit gereeld met onbehandelde riool besoedel en die tak het foto’s as bewyse by die klagtes gevoeg.”

Swart voeg by dat swak munisipale bestuur en instandhouding die besoedeling veroorsaak en dat die skuldige partye daarvoor aanspreeklik gehou moet word. “Die munisipaliteit is veronderstel om ons belastinggeld aan te wend om die rioolwerke in stand te hou, op te gradeer waar nodig en te verseker dat onbehandelde riool nie die omgewing besoedel nie. Die saak is by die SAPD aanhangig gemaak en ons het bevestiging ontvang dat die klagtes aan die Groen Skerpioene oorhandig is vir verdere ondersoek. Ons sal voortdurend met die ondersoekbeampte opvolg om vordering van die saak te moniteer.”

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om die Springs-tak te ondersteun. Voeg jou naam by die klagtes: SMS “Springs” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings