AfriForum se Springbok-tak plaas druk op owerhede oor vullisterreinkrisis


Die burgerregte-organisasie AfriForum het onlangs die vullisterrein op Springbok besoek en geoudit, waarna bevind is dat dié terrein geensins aan nasionale standaarde voldoen nie.

Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen wat onder meer toegangsbeheer, beperking van onwettige storting, omheining, rehabilitasie en brandregulasies insluit. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag – Springbok se vullisterrein het ’n nul ontvang.

“Die vullisterrein op Springbok het nie aan ’n enkele wetlike vereistes voldoen nie. Daar is geen omheining of toegangsbeheer nie en diere loop tussen die vullis rond. ’n Aantal mense, wat kinders insluit, woon ook op die perseel wat uit die aard van die saak ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Die tak het gemeenskapslede van Springbok deur middel van ’n kort vraelys versoek om probleme in hulle dorp wat hulle die meeste kwel te identifiseer en die vullisterrein was bo-aan hierdie lys. Die tak beskik ongelukkig nie oor die nodige fondse om self in te gryp nie, maar gaan deur aanmaningsbriewe druk op die munisipaliteit plaas om dit reg te stel. Die burgerregtewaghond het verder op aksieplanne en sperdatums aangedring om te verseker dat die vullisterrein in die toekoms op ’n wettige en omgewingsvriendelike wyse bestuur word.
Die ouditverslag sal vir verdere ondersoek en optrede teen die betrokke munisipaliteite aan die Groen Skerpioene oorhandig word. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer totdat die vullisterrein op standaard gebring is.

Soortgelyke plasings