|

AfriForum se skoleveiligheidsgids sal help om plofbare situasies te ontlont

Hoe gemaak as ’n plofbare situasie by jou skool ontstaan?

Rolspelers en belangegroepe by skole kan nou antwoorde en hulp kry met ’n skoleveiligheidsgids wat die burgerregte-organisasie AfriForum vandag bekendgestel het.

Die gids bevat ’n oudit met 116 vrae wat skole kan voltooi ten einde te bepaal hoe gerat hulle vir probleme met veiligheid by hul skole is. Die gids kan bekom word deur ’n SMS te stuur na 42314. Dit is in Afrikaans en Engels beskikbaar en is daar om alle skole te bemagtig.

“Die voorval by die Hoërskool Overvaal in 2018 en die onluste wat reeds in 2019 by skole regoor die land plaasgevind het, het weer eens bevestig dat veiligheidsmaatreëls by skole dringend onder die loep geneem moet word,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Dit is met dié doel voor oë dat AfriForum se onderwys- en gemeenskapsveiligheidsbeen vandag ’n skoleveiligheidsgids bekendgestel het. Dit sal skole in staat stel om te verseker dat hulle oor die nodige en korrekte veiligheidsmaatreëls beskik sodat die skool voorbereid en leerders en onderwysers in ’n noodsituasie veilig kan wees.

“Ons vind dat skole in baie gevalle nie gerat is om sulke voorvalle te  hanteer nie en daarom het ons hierdie gids saamgestel. Dit is elke leerder en onderwyser se reg om gehalte-onderrig in ’n veilige omgewing te kry,” meen Bloem.

Die gids fokus onder meer daarop dat ’n skool se omheining ’n doeltreffende hoogte moet wees en van duursame materiaal gemaak moet wees. Streng toegangsbeheer moet toegepas word en daar moet voldoende nooduitgange en brandblussers wees.

“Daar is ontsettend baie veiligheidsaspekte wat ʼn mens kan miskyk, maar wat die potensiaal het om in ’n  noodsituasie ernstige probleme te veroorsaak,” sê Bloem.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê skole se ingesteldheid teenoor veiligheid moet verander ten einde deurlopend weerbaar te wees.

Hy het ook verwys na die polisie in Schweizer-Reneke se optrede tydens die onlangse onluste, waar ’n brigadier die skoolhekke vir betogers oopgemaak het. “Hoewel daar goeie polisie teenwoordigheid was by Overvaal, is die Schweizer-voorval bewys daarvan dat veiligheid nie meer ’n waarborg is wat die staat vir skole kan gee nie. Daarom moet ons hand in eie boesem steek wanneer dit by die beveiliging van skole kom.”

Hy sê voorts dat AfriForum skole wil bemagtig om proaktief op te tree deur oudits by skole te doen wat betref die veiligheid van die skool en leerders, en om maatreëls in plek te stel om die veiligheid van die leerders in skole te verbeter.

Cameron sê ook dat lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling skole in verskillende dorpe tydens AfriForum se ankerdorppadskou gaan besoek om te verseker dat hierdie skole die korrekte veiligheidsmaatreëls in plek het.

Dié padskou vind van Februarie 2019 tot November 2019 plaas.

AfriForum Veiligheid het verlede jaar afgeskop met die beveiliging van Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar chaos gedreig het nadat 55 Engelse leerlinge ingevolge ’n hofuitspraak nie tot die skool toegelaat is nie. Ontstoke ouers van die 55 leerlinge het ná die uitspraak gedreig om die skool te ontwrig of selfs af te brand.

’n Groep betogers het ook vandeesmaand by die Laerskool Schweizer-Reneke toegesak nadat ‘n foto wyd op sosiale media gedeel is wat wys hoe wit en swart kinders in ‘n gr. R-klas by die skool apart sit. Dit het ’n rasseherrie ontketen omdat die konteks van die situasie nie in ag geneem is nie.

Leerlinge by die Hoërskool Stilfontein in Noordwes is ook vandeesmaand ontruim weens oproer. Ontstoke leerlinge en hul ouers het verlede Maandag die skool binnegegaan, vensters met klippe stukkend gegooi en deure afgebreek. Die gebeure volg nadat ’n groep leerlinge en hul ouers glo ontevrede was omdat hulle nie na die volgende graad deurgesit is nie.

Hardus Visagie, voormalige beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Overvaal, het tydens die bekendstelling van die gids gesê dit is belangrik dat beheerliggame, ouers en die breër gemeenskap van ’n skool saamwerk om kinders se veiligheid te verseker. Hy het ook daarop gewys dat dit belangrik is om deurlopend akkuraat te kommunikeer oor die situasie by skole om sodoende te voorkom dat onnodig paniek gesaai word.

Soortgelyke plasings