AfriForum se Senekal-tak rig navrae oor buitensporige uitgawes in GOP


Die AfriForum-tak in Senekal het op 12 Februarie skriftelik terugvoer gelewer op die konsepweergawe van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2017/2018 tot 2021. Dít volg nadat die munisipaliteit verlede jaar onderneem het om openbare vergaderings met die gemeenskap te hou rakende die GOP, maar dit is egter uitgestel tot hierdie jaar as gevolg van klagtes dat alle belanghebbendes nie behoorlik uitgenooi is nie. Geen nuwe datum is intussen bekend gemaak vir ’n openbare vergadering nie en daar heers onsekerheid oor of daar wel só ’n vergadering gaan plaasvind. As gevolg hiervan het die Senekal-tak verskeie klagtes en voorstelle rakende die GOP aan sowel die burgemeester van die munisipaliteit as die munisipale bestuurder gestuur.
Die tak se klagtes het hoofsaaklik te doen met wanbesteding en onsekerheid oor die buitensporige groot bedrae wat begroot word vir uitgawes wat minder behoort te beloop. Dit sluit die volgende in:

  • Vyf JoJo-watertenks teen R81 442 (R16 289 per tenk). Die tak het intussen vasgestel dat dieselfde watertenks teen R5 500 per tenk in Senekal aangekoop kan word.
  • Die tak bevraagteken waarom R500 000 vir advertensiekoste, asook R250 000 vir kos en drinkgoed vir verkeersbeamptes begroot moet word. Ander bemarkingsverwante uitgawes wat bevraagteken word sluit R500 000 in wat uiteengesit word vir ’n kliëntetevredenheidsopname, asook R1 000 000 vir die wysiging aan die handelsmerk van munisipale geboue en ’n nuusbrief.
  • Daar heers onsekerheid oor Senekal se binnenshuise sportsentrum (R10 359 700) en of daar begroot is vir sowel instandhouding van die perseel as betaling van personeel wat hierdie sentrum moet onderhou.
  • Finansiële ondersteuning word aan verskeie feeste verskaf, terwyl die Senekal-skou, wat vanjaar 108 jaar oud is, geen ondersteuning vanaf die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit ontvang nie.
  • R528 000 vir nuwe skootrekenaars wat aan raadslede toegeken word.

Die tak het ook versoek dat die munisipaliteit bewyse verskaf dat daar aktief aan oplossings gewerk word met betrekking tot die ernstige waterkrisis wat al vir die afgelope vyf tot ses jaar in Senekal en Matwabeng ervaar word. Optrede word verder versoek rakende die rioolkrisis wat steeds voortduur, tesame met verouderde infrastruktuur wat nie vervang of herstel word nie.
Die tak het versoek dat die munisipaliteit terugvoer lewer binne 14 dae nadat die skrywe ontvang is.

Soortgelyke plasings