AfriForum se Secunda-tak skenk verf vir straatnaam- en brandkraanprojek


Die AfriForum-tak in Secunda het op 19 Januarie samesprekings met die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit begin voer oor die verf van straatname in dié dorp. Dié aksie is opgevolg met skrywes aan die munisipaliteit ten einde die nodige goedkeuring te verkry, terwyl die hoof van die plaaslike verkeersdepartement sowel telefonies as per e-pos gekontak is. E-posse is ook na verskeie amptenare in diens van die munisipaliteit gestuur in ’n poging om goedkeuring te verkry.
Taklede het intussen besluit om met die aankoop van verf en stensils voort te gaan om die straatname te verf, waarna hulle op 20 Februarie per e-pos verwittig is dat die munisipaliteit nog van plan is om te reageer op skrywes deur onder meer bestuurslede van paaie en stormwater, asook die hoof van die verkeersdepartement. Dié departemente voer aan dat die infrastruktuur die eiendom van die munisipaliteit is en dat hulle daarom moet seker maak dat die korrekte straatname soos per die geografiese naamsveranderingspesifikasies aangedui word.
Volgens Nico Venter, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het hy daarna met die verkeershoof in verbinding getree waartydens hy meegedeel is dat die munisipaliteit reeds met die verf van straatname begin het en dat AfriForum in ’n latere stadium gekontak sal word vir ’n vergadering in dié verband. Hy sê dat hy egter tydens ’n opvolgoproep daarop gewys is dat die munisipaliteit die verfwerk alleen sal behartig.

“Dit is betreurenswaardig dat AfriForum se hulp van die hand gewys word, gesien in die lig van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se finansiële verknorsing. Die gemeenskap was bereid om die taak aan te pak en dit vinnig en suksesvol af te handel,” aldus Venter.

Ten einde die kanne verf te benut wat reeds vir die straatnaamprojek aangekoop is, is dit by die verskaffer vir onder meer rooi verf, kwaste en ander toerusting omgeruil en aan die plaaslike brandweerstasie geskenk. Die brandweer sal dit in die opkomende maande gebruik om die dorp se brandkrane te verf om sodoende verhoogde sigbaarheid daarvan te verseker. Dít vorm deel van AfriForum se 2018-brandkraanprojek.

“Daar is talle dorpe waar die brandkrane moeilik sigbaar is en dit bemoeilik gevolglik die brandweer se taak. Beter sigbaarheid van brandkrane in ons dorpe kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

Die plaaslike AfriForum-tak beplan om soortgelyke selfdoenaksies in Secunda aan te pak en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak: SMS “Verf” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings