AfriForum se Sasolburg-tak vervang 180 straatligte


Die AfriForum-tak in Sasolburg het gedurende Augustus ’n nuwe projek geloods wat daarop fokus om stukkende straatligte in Sasolburg en Vaalpark te herstel. Dít volg nadat verskeie inwoners hul ontevredenheid uitgespreek het oor straatligte wat buite werking is en gevolglik ’n veiligheidsrisiko inhou.
Weens die munisipaliteit se beperkte vermoë het die tak besluit om self die straatligte te vervang. Na afloop van suksesvolle opleiding het die takbestuur reeds meer as 180 straatligte in en rondom Sasolburg en Vaalpark vervang.

“Die Sasolburg-tak is nou al ’n geruime tyd besig met verskeie skoonmaakaksies in die dorp en hierdie nuwe projek sal help om die dorp veiliger te maak. Een van ons grootste doelwitte by AfriForum is om hoop te skep vir ons gemeenskappe en die Sasolburg-tak se ywer en onbaatsugtige betrokkenheid is ’n uitstekende voorbeeld hiervan,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die sentraalstreek.

Sowel die skoonmaak- as die straatligprojek gaan voort en die tak wil die publiek aanmoedig om betrokke te raak deur deel te neem aan die aksies van en aan te sluit by AfriForum se Sasolburg-tak. Donasies kan ook gemaak word: Stuur ’n e-pos aan Izak Lessing by Izak@lvm1.co.za.

Soortgelyke plasings