AfriForum se Sasolburg-tak vergader met burgemeester oor swak dienslewering


Die AfriForum-tak in Sasolburg het op 17 April met Lindiwe Tshongwe, burgemeester van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, oor swak dienslewering in Sasolburg en Vaalpark vergader. Die munisipale raadslede George Burger, Koos Grobbelaar en Jacques Barnard, asook Mosiuoa Poho (tegniese dienste), Fikile Mosokweni (sosiale dienste) en Themba Mikane (politieke adviseur) – almal lede van die burgemeesterskomitee – het ook die vergadering bygewoon.
Die tak het die vergadering belê om klagtes vanuit die gemeenskap rakende swak dienslewering direk aan die burgemeester voor te lê. Klagtes sluit onder meer die volgende in: Slaggate, niefunksionerende straatligte, gras wat nie gesny word nie, munisipale infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie en besoedeling. Sowel die AfriForum-takbestuur as raadslede het voorstelle gemaak oor hoe hierdie probleme in die toekoms beter aangepak kan word.
Die AfriForum-tak se versoek om met beplande selfdoenprojekte voort te gaan, is ook deur Tshongwe goedgekeur. Dit sluit die herstel van straatligte in D.F. Malanstraat en die skoonmaak van openbare parke en grasperke in.
Intussen word die publiek en sakesektor genooi om by die tak se straatligprojek wat in Junie 2018 ’n aanvang neem, betrokke te raak. Diegene wat graag by die tak wil aansluit of donasies tot die projek wil maak, kan ’n e-pos na izak@lvm1.co.za of stephen.nel@afriforum.co.za stuur.

Soortgelyke plasings