| | |

AfriForum se Rustenburg-tak verskaf skolehulppakkette

Die AfriForum-tak in Rustenburg het skolehulppakkette aan ses skole in Rustenburg voorsien as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Die Hoërskool Rustenburg, Laerskool Vastrap, CVO Platinum, Laerskool Rustenburg, Laerskool David Brink en Laerskool Proteapark het dié pakkette ontvang om hulle te help om gereed te maak vir die toename in leerders wat terugkeer skool toe.

Die skolehulppakkette wat op nasionale vlak en ook aan dié skole versprei is bestaan uit COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van een pakket beloop R6 500. Die Rustenburg-tak het ’n stap verder gegaan en nóg 20 klein handreinigerstaanders vir kleiner kinders aan van dié skole geskenk. Die totale koste van die projek vir die Rustenburg-tak was ongeveer R60 000.

“AfriForum het heelwat versoeke van skole ontvang omdat hulle geen/onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se Rustenburg-tak aan dié projek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig kan terugkeer skool toe en die 2020-akademiese jaar kan hervat,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Rustenburg-tak wil graag nóg skole in die uitdagende tye wat voorlê ondersteun om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die tak moedig die gemeenskap aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings