AfriForum se rustenburg-tak loods petisie

AFRIFORUM SE RUSTENBURG-TAK LOODS PETISIE NÁ ESKOM DREIG OM KRAG TE SNY

AfriForum se Rustenburg-tak het ’n petisie opgestel nadat Eskom gedreig het om dié dorp en die omliggende gebiede se elektrisiteit van 30 Julie 2020 af te sny. Die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit skuld ongeveer R144 miljoen aan Eskom en die organisasie hoop dat dié petisie sal help om te verhoed dat die elektrisiteitstoevoer afgesny word.

Die organisasie het reeds skrywes aan sowel Mpho Khunou, burgemeester van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit, as Eskom gerig, waarin daar versoek word dat die elektrisiteit nie opgeskort word nie.

“Die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit bewys voortdurend dat hulle onbekwaam is om finansiële bronne te bestuur. In hierdie geval betaal die inwoners van die area pligsgetrou hul elektrisiteitsrekening aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om hul rekening by Eskom te betaal. Die onbevoegde en onkundige munisipale bestuur het veroorsaak dat die munisipaliteit ’n reusebedrag aan Eskom skuld,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens die bestuur van die Rustenburg-tak is dit veral kommerwekkend dat die gemeenskap tydens die COVID-19-pandemie ook nog bekommerd moet wees oor basiese dienste soos water- en elektrisiteitsvoorsiening.

AfriForum sal alles moontlik doen om te verseker dat die dorp se ligte aanbly. Jy kan help deur die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings