| |

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid ondersoek Ballito-voorval

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel ondersoek tans die onlangse voorval van onbillike en arbitrêre optrede deur munisipale vredesbeamptes van die KwaDukuza Plaaslike Munisipaliteit in Ballito. Beeldmateriaal van twee beamptes wat ’n vierjarige kind teen die wil van sy vader hanteer, doen tans die rondte op sosiale media. Dit is tans nog nie duidelik wat die bedoeling van die beamptes was nie en dit vorm deel van die ondersoek.

Die Privaatvervolgingseenheid is tans in kontak met verskeie lede van die publiek wat tydens hierdie voorval gearresteer is, asook met die prokureur van die persoon wat in die beeldmateriaal verskyn. Dié eenheid ondersoek ook ander soortgelyke gevalle van magsvergrype deur vredesbeamptes en wetstoepassers in die land. Die fokus is nie uitsluitlik op die vraag of die beamptes ingevolge die reg opgetree het nie, maar ook op die wyse waarop hulle lede van die publiek – wat soos almal vasgevang is in die abnormale omstandighede van die staat van inperking – behandel in die uitvoering van hulle pligte.

“Hierdie tipe magsvergrype deur regeringsamptenare, wat veronderstel is om die publiek te beskerm, is onaanvaarbaar. Wetstoepassers wat die regering se inperkingsregulasies (wat gewoonlik vaag en oop is vir interpretasie) moet afdwing, moet onthou dat hulle nié te doen het met geharde misdadigers wanneer dit kom by gewone lede van die publiek wat probeer sin maak van hierdie regulasies nie. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat ’n presedent geskep word waar brutaliteit (veral teen kinders) deur regeringsamptenare toelaatbaar is nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings