| |

AfriForum se Piet Retief-buurtwag verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se Piet Retief-buurtwag het op 8 November 2019 in samewerking met SAPS en Piet Retief se verkeersafdeling aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Tydens die patrollie is 12 mense weens dronkbestuur in hegtenis geneem, asook een weens die besit van dagga en vyf weens alkoholgebruik op straat.

AfriForum het op 30 Oktober 2019 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

 

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul omgewing te beveilig,” sê Gerhard Böhmer, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-buurtwag.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings