AfriForum se Parys-tak bekommerd oor standaard van rioolwerke


Die AfriForum-tak in Parys het verlede maand dié dorp se drink- en rioolwater getoets as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek. Dit blyk dat daar rede tot kommer is aangesien die rioolwatertoets vir sowel E. coli as fekale koliforme gereageer het.
Dié kwessie is by Bruce Kannemeyer, munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, aangemeld en hy is gemaan om sy onverwylde aandag daaraan te gee. In ’n skrywe aan Kannemeyer maak die plaaslike AfriForum-tak ook melding van voortdurende rioollekkasies in Shochetstraat. Ten spyte van klagtes wat by die munisipaliteit aangemeld word, vloei daar steeds rou riool deur die strate, wat ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.
Die tak se toetse op kraanwater van die Laerskool Parys dui daarop dat die dorp se drinkwater wel aan gestelde regulasies voldoen. Daar heers egter steeds kommer oor drinkwater, aangesien dit op ’n gereelde basis vuil lyk.

“AfriForum is bekommerd oor die toestand van die water in Parys. Dit is die munisipaliteit se plig om skoon water aan die gemeenskap te voorsien. Die AfriForum-tak sal daarom voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas totdat hierdie probleem aangepak word,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraal-streek.

Soortgelyke plasings