AfriForum se Overstrand-tak oorhandig toerusting aan Hemel en Aarde-plaaswag  

 

AfriForum se Hemel en Aarde-plaaswag in Hermanus is gerat om misdaad te bekamp en die gemeenskap te beveilig nadat dié organisasie se plaaslike tak in Overstrand die nodige toerusting, waaronder 22 tweerigtingradio’s, aan die plaaswag oorhandig het.
Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap, sê dat die burgerregtewaghond vanjaar ’n verskerpte fokus op veiligheid plaas en dat die veiligheidsportefeulje binne die plaaswag tot ’n prioriteitsportefeulje verklaar is.

“Die veiligheid van landbouprodusente is van uiterste belang. Dit sluit hul werknemers en gesinne in. Die onus berus egter op dié gemeenskap om ook self by veiligheidsinisiatiewe soos die Hemel en Aarde-plaaswag betrokke te raak om sowel hul eie as ander se veiligheid te verseker en misdaad te bekamp,” sê Van Dalen.

Die oorhandigingsgeleentheid is ook deur kol. Thys Nolte, operasionele offisier van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Overberg, asook Mervyn Milner, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)  in Hermanus, bygewoon.
Ian Cameron, AfriForum se nasionale veiligheidshoof, het aanwesiges tydens die geleentheid toegespreek en hulle oor AfriForum se nasionale veiligheidsplanne en strategieë ingelig.
 

Soortgelyke plasings