AfriForum se Overstand-tak staan borgskappe vir Jeugkamp toe


Die AfriForum-tak in Overstrand het twee graad 9-leerders van die Hoërskool Hermanus geborg om die burgerregte-organisasie se jeugkamp tydens die September-skoolvakansie by te woon. Vion Wium en Maia Bellingham het albei met besonder positiewe ervarings teruggekeer.

Elmarie van Dalen, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, het die skool verlede week besoek om met dié twee leerders oor hul wedervaringe te gesels. “Hulle het die kamp terdeë geniet – veral die fisieke uitdagings en geskiedenisgesprekke. Albei sal graag weer in die toekoms ’n AfriForum-jeugkamp wil bywoon.”

Greg Hassenkamp, hoof van die Hoërskool Hermanus, het AfriForum se Overstrand-tak bedank vir die afgelope drie jaar se deurlopende betrokkenheid by die graad 11-jaargroep, asook die borgskappe aan die graad 9-leerders om die jeugkampe by te woon.

“Dit is heerlik om te aanskou hoe AfriForum se Overstrand-tak in die leiers van die toekoms belê. Ons nageslagte sal beslis die vrugte daarvan kan pluk,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Soortgelyke plasings