AfriForum se Orania-buurtwag help om verdagtes vas te trek


 
Die AfriForum-buurtwag in Orania het op 14 Maart gehelp om verdagtes vas te trek nadat die kamerastelsel in die vroeë oggendure ’n verdagte voertuig op die R369-roete deur Orania opgemerk het.

Die voertuig het ’n persoon afgelaai wat bo-oor ’n draadheining geklim en privaat eiendom betree het. Na aanleiding van talle voertuigdiefstalle die afgelope maand is die persoon as verdag beskou. Die beheerkamerbeampte het onmiddellik die polisie in Hopetown in kennis gestel dat die voertuig in dié dorp se rigting ry. Hy het ook die dorp se veiligheidstrukture – wat die AfriForum-buurtwag insluit – geaktiveer, waarna ’n uitgebreide soektog na die verdagte voertuig van stapel gestuur is.
’n Voertuig wat aan die beskrywing voldoen, is verlate gevind ongeveer 15 km buite die dorp. Daar word vermoed dat die insittendes weens die verhoogde aktiwiteit in die dorp gevlug het. Die OVD-taakspan het omstreeks 05:30 ’n verdagte, wat in die digte bosse opgemerk is, in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig. Danksy ’n oplettende inwoner is ’n tweede verdagte later daardie middag in die dorp opgemerk. Nadat die polisie ontbied is en hulle die verdagte ondervra het, is hy ook in hegtenis geneem.

“Die sukses van die dag kan absoluut aan sowel die gedissiplineerde optrede van die gemeenskap as die goed georganiseerde veiligheidstrukture in die dorp toegeskryf word. Inwoners kan aktief ’n verskil in hul gemeenskappe maak deur by georganiseerde veiligheidstrukture betrokke te raak,” sê André Coetsee, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Suidstreek.

Raak betrokke by AfriForum se veiligheidstrukture: SMS die woord “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings