AfriForum sê openbare deelname stuit Eskom-uitbuiting van publiek


Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dat openbare deelname daartoe gelei het dat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) minder as die helfte van die bedrag in Eskom se regulatoriese aansuiweringsrekening-aansoek (RAR) toegestaan het. Nersa het vandag R32,69 miljard van Eskom se versoekte R67 miljard toegestaan.
AfriForum was een van die 96 belanghebbendes wat mondelinge kommentaar tydens die RAR-sittings gelewer het. Daarbenewens is altesaam 85 000 stukke geskrewe kommentaar ingedien.
Morné Mostert, hoof van plaaslike regering by AfriForum, sê gemeenskappe in Suid-Afrika kan nie die las van Eskom se korrupsie en swak bestuur verder dra nie.

“Die multijaar-prysvasstellingsproses laat Eskom toe om geregverdigde kostes te verhaal. AfriForum gaan redes versoek vir Nersa se besluit vandag omdat ons wil bepaal of slegs geregverdigde kostes hiermee in ag geneem is. Nersa het onderneem om hierdie redes te verskaf, maar wil om vertroulikheidsredes eers met Eskom vergader.”

Nersa se besluit kom te midde van ’n hofaansoek wat Eskom teen Nersa gebring het om die energiereguleerder se besluit van Desember 2017 om kragtariewe met 5,23% te verhoog, te hersien. Indien Eskom se aansoek slaag, kan dit ’n kumulatiewe uitwerking op kragpryse hê en die beleërde verbruiker onder verdere druk plaas.
Volgens Mostert moet Eskom eerder daarop fokus om sy interne probleme en historiese verliese te hanteer as om duur hofsake teen Nersa te maak.

“Nersa het gesê hulle sal voor 30 September aankondig hoe die R32,69 miljard verhaal gaan word. AfriForum sal aan hierdie en toekomstige prosesse deelneem om billikheid jeens gemeenskappe te verseker,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings