AfriForum se Oos-Rand-takke moedig publiek aan om GOP-vergaderings by te woon


Die Ekurhuleni Metro het op Saterdag 30 Maart 2019 die datums vir die Oos-Rand se openbaredeelnamevergaderings rakende die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) op Facebook bekend gemaak.

Die vergaderings is dus op uiterse kort kennisgewing aan die publiek gekommunikeer omdat die eerste vergaderings reeds op 2, 3 en 4 April 2019 plaasvind. AfriForum se takbesture aan die Oos-Rand gaan egter tydens dié vergaderings aanmaningsbriewe op die onderskeie lede van die burgemeesterskomitee beteken. Hulle poog om uitstel van die vergaderings te eis sodat die publiek die geleentheid kan hê om behoorlik aan die proses deel te neem.
AfriForum se Oos-Rand-takke is sedert Oktober 2018 besig om verfynde kommentaar op te stel oor probleme in die onderskeie dorpe. Dié kommentaar sal tydens die vergaderings ingedien word. Die takbesture het op munisipale uitgawes, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede gefokus.

“Dit is uiters belangrik dat die publiek kennis neem van die GOP-proses en aan die openbare vergaderings deelneem wat in April 2019 gehou word. Ons moet ’n sê hê in die toewysing van hulpbronne en dienslewering, asook wat die munisipaliteit vir elke woongebied beplan,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die openbaredeelnamevergaderings vir April sal soos volg plaasvind:

Gebied Datum Tyd Plek
Springs 2 April 2019 18:00 Springs-saal – h.v. Plantation- en South Mainweg
Germiston 2 April 2019 18:00 Dinwiddie-saal – h.v. Sunston- en Althemlaan
Kempton Park 3 April 2019 18:00 Kempton Park-stadsaal – h.v. C.R. Swart- en Pretoriaweg
Alberton 3 April 2019 18:00 Alberton-stadsaal (nuwe raadsaal) – Alwyn Taljaardtlaan 1
Benoni 4 April 2019 18:00 Actonville-gemeenskapsaal – Mayetstraat
Brakpan 9 April 2019 18:00 Brakpan Binnenshuise Sentrum –  h.v. Escombe- en Elliotweg
Boksburg 11 April 2019 18:00 Reiger Park-gemeenskapsaal – Leon Ferreirarylaan
Edenvale 11 April 2019 18:00 Edenvale-gemeenskapsentrum – h.v. Van Riebeeck- en Tweedestraat

Ons moedig inwoners van die Oos-Rand aan om aan hierdie openbare vergaderings deel te neem en by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak. SMS “GOP” na 45342 (R1) en ondersteun hierdie aksie.

Soortgelyke plasings