|

AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte ontvang opleiding in toneelhantering

Die AfriForum-buurtwagte in Boksburg, Brakpan, Edenvale, Kempton Park, Germiston en Springs het op 17 September 2019 opleiding in toneelhantering ontvang. Hierdie opleiding is in Brakpan aangebied onder leiding van inspp. Eruka Mackenzie en Christo Botha van die Ekurhuleni-metropolisie.

Nagenoeg 95 mense het die geleentheid bygewoon, wat hoofsaaklik op die hantering en beveiliging van misdaad- en ongelukstonele gefokus het. Na afloop van die aanbieding is ’n basiese ongelukstoneel nageboots om die teorie prakties toe te pas. Paramedici wat by die opleiding betrokke was het ook die geleentheid gehad om aan die deelnemers te demonstreer hoe hulle ’n pasiënt uit ’n voertuig mag onttrek.

“Die opleiding was baie leersaam en interaktief – die metropolisiebeamptes het deurgaans advies en leiding verskaf en klem gelê op die belangrikheid dat buurtwagte goed opgelei moet wees wanneer hulle met toneelhantering te doen kry. Die gemeenskap is die oë en ore van die polisie en samewerking tussen alle veiligheidsinstansies maak misdaadbekamping suksesvol,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings