AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte ontvang GOS-opleiding

 

AfriForum se Alberton-, Brakpan-, Kempton Park-, Edenvale- en Germiston-buurtwag het op 11 Oktober 2018 in aanloop tot die laaste nasionale patrollie van 2018 gesamentlikeoperasionelesentrum- (GOS) opleiding in Brakpan ontvang. Dit volg nadat daar weens ’n groot toename in AfriForum se veiligheidsnetwerke ’n behoefte onder buurtwagte geïdentifiseer is om strukture te versterk.
Die opleiding is aangebied deur Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder, en is deur 40 buurtwaglede uit verskillende gebiede in die Oos-Rand bygewoon. Hierdie opleiding is daarop gemik om buurtwagte se kommunikasievermoëns onder mekaar te verbeter.
Tydens AfriForum se nasionale sigbaarheidsaksies word daar ’n streeks- gesamentlike operasionele sentrum opgerig wat deur vrywillige lede en hoofkantoorpersoneel beman word, en wat Gauteng, Limpopo en Mpumalanga se kommunikasienetwerke sal beheer om meer doeltreffende inligting deur te gee en die nodige bystand aan buurtwagte te bied.
Die nasionale kommunikasienetwerk wat ingeoefen word, asook die sigbaarheidspatrollie wat tydens AfriForum se nasionale patrollie plaasvind, is van kardinale belang om te verseker dat AfriForum-strukture en ander veiligheidsinstansies wat aan die nasionale aksie deelneem op ʼn nasionale vlak kan kommunikeer om misdaad die hoof te bied en gemeenskappe in tye van nood beter kan te ondersteun.

“Professionele opleiding is noodsaaklik vir elke veiligheidstruktuur. AfriForum se buurtwaglede moet te alle tye met die nodige kennis en toerusting toegerus wees om gemeenskappe in tye van nood by te staan. Dit is ook belangrik dat buurtwaglede die korrekte opleiding ontvang – vir sowel hul eie as die gemeenskap se veiligheid,” se Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Raak vandag nog in jou gemeenskap betrokke: SMS “skep hoop” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings