|

AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte neem deel aan Operasie Masakhane

AfriForum se buurtwagte in Kempton Park, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston en Springs het die afgelope naweek in samewerking met die SAPD, die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan die SAPD se Operasie Masakhane in die Kempton Park-omgewing deelgeneem.

AfriForum-buurtwagte wil ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoësigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig, veral met die naderende feesseisoen. Sestien AfriForum-patrolleerders het aan die operasie deelgeneem en was onderskeidelik by twee padblokkades, sigbaarheidspatrollies, verrassingsbesoeke aan klubs, kroeë en tavernes, asook ’n dwelmoperasie onder leiding van die SAPD se misdaadvoorkomingseenheid betrokke. Twee arrestasies is vir gewapende roof en twee vir die besit van dwelms uitgevoer. Verskeie dwelms, gevaarlike wapens – wat ’n panga, messe en knopkierie insluit – en drank is gekonfiskeer.

Altesaam 1 200 pamflette oor die vernietigende uitwerking van dwelms en 200 pamflette oor huishoudelike geweld is tydens interaksies met die gemeenskap versprei. Die naweek is op Sondag afgesluit met ’n erediens vir alle beskermingsdienste, wat by die NG Kerk-gemeente in Birchleigh gehou is.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede lê. AfriForum se Kempton Park-tak wil graag die SAPD, die GPF, verskeie sekuriteitsmaatskappye en AfriForum se Oos-Rand-takke wat aan hierdie klopjagte deelneem vir die uitstekende samewerking en goeie koördinering tydens hierdie optredes bedank,” sê Jan Vermaak, AfriForum se Kempton Park-takvoorsitter.

Soortgelyke plasings