| |

AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwagte in Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Edenvale, Germiston, Kempton Park, Springs en Endicott het op Vrydag 4 Oktober 2019 in hulle onderskeie gebiede aan dié burgerregte-organisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskappolisiëringsforums, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies aangepak.

270 patrolleerders (wat die sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies uitsluit) het altesaam 4 340 km met 120 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur. Hulp is verleen tydens ’n aanranding, twee brande in residensiële gebiede, ’n voertuigdiefstal, ‘n poging tot huisinbraak en verskeie motorongelukke.

“Die Oos-Randse buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die Noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jou dorp veilig te maak: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings