AfriForum se Oos-Moot-tak staan Waverley-gemeenskap by

AfriForum se Oos-Moot-tak het op 13 November 2019 ’n boom in Waverley verwyder wat ’n straat versper het. Weens die sterk wind wat die afgelope tyd in die omgewing woed, het die boom omgewaai en in die straat geval. Die tak het onmiddellik die gebied beveilig en die boom in stompe gesaag en verwyder.

Volgens Gideon van Deventer, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak, wil hulle die gemeenskap ook tydens ongewone voorvalle bystaan. “Ons wil onder andere verseker dat Waverley se inwoners hul bestemmings veilig bereik en daarom het ons vinnig gereageer om die boom te verwyder.”

Op dieselfde dag het die tak ook ’n skrywe aan die Tshwane-metro gerig om ’n waterlekkasie in Breyerlaan onder hulle aandag te bring. Die lekkasie het veroorsaak dat verskeie huishoudings in Waverley sonder water moes klaarkom.

In die skrywe het AfriForum dit duidelik aan die metro gestel dat, sou die waterlekkasie nie binne 24 uur herstel word nie, die tak dit self sal doen. Die metro het die lekkasie wel binne die spertyd reggemaak en die watertoevoer is uiteindelik herstel.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar soveel waterlekkasies in die Pretoria-omgewing is. Ons is bewus van verskeie lede wat waterlekke in hul omgewing aangemeld het en dan dae lank moes wag vir die lek om reggemaak te word. Tshwane berispe inwoners gedurig om water meer spaarsamig te gebruik, maar intussen vermors die metro self geweldig baie water as gevolg van swak instandhouding en infrastruktuur,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Raak vandag nog aktief by AfriForum se Oos-Moot-tak betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1) en dra by tot ’n positiewe verskil.

Soortgelyke plasings