|

AfriForum se Oos-Moot-buurtwag trek verdagte vas

AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het op 6 November 2019 ’n verdagte aangekeer nadat twee patrolleerders van dié buurtwag gesien het hoe ’n verdagte ’n vrou teen ’n muur vasgooi en vasdruk. Die verdagte het die vrou se handsak gegryp en probeer weghardloop. Die buurtwaglede het die verdagte agternagesit en vasgetrek. Kilnerpark Sekuriteit het hulp verleen en het die verdagte gearresteer.

Die voorval het 06:00 op die hoek van Lawson- en Trumperstraat plaasgevind. Die verdagte het glo ook op die vrou geskree en doodsdreigemente gemaak.

Volgens Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, is dit ’n groot sukses vir die buurtwag en die buurtwag sal aanhou om die stryd teen misdaad te veg. “Misdadigers moet weet dat hulle geen plek in ons gemeenskap het nie en dat ons gemeenskap sonder skroom teen misdaad sal saamstaan.”

Opperman sê ook dat hierdie ’n puik voorbeeld is van hoe ’n gemeenskap self opstaan om hulself te beskerm.

“Ons kan sien dat ons patrollies vrugte afwerp en vinnige optrede moontlik maak. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Gideon van Deventer, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak.

Sluit by AfriForum se Oos-Moot-buurtwag aan: Stuur ’n e-pos aan oosmootbuurtwagaf@gmail.com of SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings