AfriForum se Oos-Moot-buurtwag bekamp misdaad met selfdoenaksies


Die AfriForum-buurtwag in Oos-Moot het die afgelope naweek by die spruit op die hoek van 30ste en Cunninghamlaan bymekaargekom om ’n reuseontbossingsaksie van stapel te stuur. Die gemeenskap het ’n behoefte uitgespreek om dié gebied te beveilig, waarna die Oos-Moot-buurtwag namens AfriForum se Waverley-tak betrokke geraak het.

Die skoonmaakaksie het op Saterdag 27 April 2019 plaasgevind. Die ondersteuning en positiewe gesindheid van AfriForum-lede en die gemeenskap was oorweldigend. V&S Car Hire het ’n laaigraaf (TLB) vir die dag se gebruik geborg en SVM Plant Hire het kettingsae beskikbaar gestel. Waverley Slaghuis en Oasis Water Villieria het onderskeidelik wors en water vir die vrywilligers geskenk.

“Verbygangers het gestop om vir al die werkers koeldrank te koop. ’n Dame wat langs die spruit woon het pannekoek gebring en nog ’n persoon het melkskommels afgelaai. Die gemeenskap het werklik hande gevat!” sê Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag.

Chantelle van Wyk, wat ook langs die spruit woon, sê die volgende oor die aksie:

“Ons het groot dank vir AfriForum se inisiatief. Die gebied rondom die spruit was werklik ’n onooglikheid en baie onveilig. Ons is trots om lede te wees van só ’n wenspan-organisasie wat nie net praat nie, maar eerder doen!”

Opperman bedank almal wat die skoonmaakaksie moontlik gemaak het en wil die gemeenskap uitnooi om betrokke te raak by AfriForum se ander aksies wat die omgewing beveilig en verhef. Die Oos-Moot-buurtwag dien Moregloed, Waverley en dele van Bergtuin, East Lynne en Villieria. Om by AfriForum se veiligheidstrukture in te skakel, kontak vir Andries Opperman by 084 685 7122.
Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak: SMS “Waverley” na 45341 (R1), óf stuur ’n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings