--> -->
Spyskaart +

AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Vanderbijlpark-tak ruim begraafplaas op

Oktober 23, 2018 deur Marelie Greeff

Lede van AfriForum se Vanderbijlpark-tak het op Saterdag, 13 Oktober 2018, ’n vuil en verwaarloosde area van die Vanderbijlpark-begraafplaas skoongemaak en ’n groot hoeveelheid rommel verwyder. Die skoonmaakprojek het deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog uitgemaak.

Sluipslapers en dwelmhandelaars gebruik ’n ou kantoorgebou op dié perseel as skuilplek, wat veroorsaak dat daar dikwels rommel in die omgewing ophoop. Dit is ook ’n veiligheidsrisiko vir besoekers aan die begraafplaas.

“Inwoners is keelvol vir rommel in ons buurte en parke. Selfdoen is tans die enige uitweg, veral omdat die munisipaliteit nie tot doeltreffende dienslewering in staat is nie,” sê Stephanus Blignault, voorsitter van die Vanderbijlpark-tak.

Blignault het ook lede van die publiek bedank wat reeds ’n paar agtereenvolgende Saterdae afgestaan het om rommel in die SW2- en CW2-buurt op te ruim.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Stuur ’n e-pos na afriforumvdb@gmail.com of stuur ’n SMS met die letters “Vdbp” na 45342 (R1) om by die tak aan te sluit.