AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Stilfontein-buurtwag hou patrollie vir jeug


AfriForum se Stilfontein-buurtwag het op 6 Oktober ’n veldtog geloods om bewusmaking van veiligheid onder die jeug in dié dorp te skep. Die aksie het ’n patrollie ingesluit, en kinders en hul ouers is genooi om ’n staproete saam met die buurtwaglede aan te durf.

Tydens die patrollie is kinders ingelig oor hoe hulle verdagte persone en situasies kan uitken, waar hulle misdaad kan rapporteer en wat die belangrik rol is wat die buurtwag in die gemeenskap vervul. Die kinders het ná afloop van die patrollie elkeen ’n worsbroodjie en koeldrank ontvang, wat deur die gemeenskap geborg is.

“Deur die jeug van Stilfontein van veiligheidstrukture in die gemeenskap bewus te maak, bemagtig ons hulle met die vrymoedigheid om misdaad by ’n vertroueling aan te meld. Byna 50 kinders het aan die patrollie deelgeneem, en daar is reeds versoek om ’n soortgelyke aksie in die nabye toekoms aan te bied. Ons bedank graag elkeen wat tot ’n suksesvolle aand bygedra het,” sê Marli Du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Stilfontein-tak.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings