AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Springs-tak loods skoonmaakaksie


As deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog wat in Oktober 2018 afskop het, het dié burgerregte-organisasie se Springs-tak op 29 September ’n massaskoonmaakaksie in Ermeloweg van stapel gestuur.

Dít volg nadat lede van die Springs-tak gedeeltes met lang gras langs Ermeloweg as ’n potensiële skuilplek vir misdadigers geïdentifiseer het. Die gras is deur ’n plaaslike kontrakteur gesny, terwyl taklede die vullis in dié gebied opgeruim het. Tak- en gemeenskapslede het ook gehelp om bome te snoei, bossies uit te trek en rommel in die gebied op te tel. Twee vragte met ongeveer 30 vullissakke is uiteindelik weggery.

“Omdat Springs se netheid so geweldig agteruitgaan, het die tak besluit om nóg ’n skoonmaakaksie te loods – wat ’n tydperk van agt weke gaan beslaan – en spesifiek die toename van rioolafval in die Blesbokspruit te takel. Dié projek het op 1 Oktober 2018 afgeskop met ’n aanlynpetisie wat ook op sosiale media versprei is. Voortaan gaan die tak weekliks ’n aksie loods om gemeenskapslede se betrokkenheid op ’n proaktiewe wyse te mobiliseer en druk op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te plaas,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.
“Aksies soos dié is konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself tot ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms moet beywer en self moet betrokke raak om probleme in hul omgewings aktief aan te pak,” sluit Swart af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by die Springs-tak se aksies betrokke te raak en hul name tot die Blesbokspruit-petisie te voeg deur die volgende skakel te besoek:
https://afriforum.co.za/toename-van-e-coli-die-blesbokspruit/.
Besoek www.onsdorp.co.za en gee aan AfriForum ’n mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak en raak self ook betrokke.

Soortgelyke plasings