AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Phalaborwa-tak vul slaggate


AfriForum se Phalaborwa-tak het op 15 Oktober 2018 die eerste fase van sy slaggatprojek afgeskop. Die projek, waartydens slaggate in die dorp opgevul word, vorm deel van die burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog wat daarop gemik is om probleme in dorpe self aan te pak.

Volgens Saartjie Matthysen, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak, is daar tydens hierdie fase R17 000 se teer aangekoop wat gebruik word om Hardekool- en Tambotiestraat se slaggate op te vul. “Ons het aanvanklik 200 sakke teer aangekoop en sal dit aanvul namate die projek vorder. Sodra fase een afgehandel is, sal ons addisionele slaggate in die dorp identifiseer wat gedurende fase twee gevul sal word.”
Die Phalaborwa-tak het tevergeefs op 19 September 2018 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig wat samewerking versoek op ’n verskeidenheid van projekte wat die tak in die dorp wil aanpak. “Ons het die slaggatprojek aan die munisipaliteit verduidelik en ’n samewerkingsooreenkoms probeer bereik deurdat AfriForum die teer verskaf en die munisipaliteit vir die arbeiders sou sorg, maar die munisipaliteit het dit afgekeur,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg.
“Ons wil graag met die munisipaliteit saamspan en hulle ondersteun om die uitdagings in die gemeenskap te takel, maar AfriForum sal ten spyte daarvan voortgaan met ons selfgedrewe projekte,” voeg Grobbelaar by.

Die Phalaborwa-tak wil Mica en Palale Civils vir hulle aandeel in die sukses van die slaggatprojek bedank. As deel van die #OnsDorp-veldtog wil die tak ook graag die begraafplaas opknap en vermiste verkeerstekens oprig.
Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings