AfriForum se #OnsDorp-veldtog: Meyerspark werk deur die nag


AfriForum se Meyerspark-buurtwag het die afgelope naweek ‘n suksesvolle patrollie gehou waartydens ’n skoonmaakaksie ook van stapel gestuur is. Dié buurtwag beskerm woongebiede soos Meyerpark, Equestria, Silverton, en Silverton Uitbreiding 5 en 8.

Die patrollie was uiters suksesvol en geen insidente is aangemeld nie. Die doel van die skoonmaakaksie was om alle onwettige advertensieborde en plakkers van straatpale te verwyder. Uiteindelik is sowat vyf bakkievragte rommel weggery.

“Ons wil graag ’n daadwerklike verskil in ons gemeenskap maak en daarom span ons met ander veiligheidstrukture saam om ons doelwitte te bereik. Ek is trots daarop om deel van só ’n suksesvolle aksie te wees,” sê André Badenhorst, AfriForum se veiligheidsvoorsitter vir die Meyerspark-tak.
“Die tak gaan deur die loop van die maand verskeie soortgelyke aksies aanpak as deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog, wat daarop gemik is om probleme in dorpe self op te los,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings