|

AfriForum se Ons Dorp-veldtog is weer in volle swang

Die burgerregte-waghond AfriForum het sy Ons Dorp-veldtog, waartydens dorpe regoor die land volhoubare selfdoenaksies in hul gemeenskappe aanpak, onlangs hervat en verskeie AfriForum-takke het reeds ingespring en suksesvolle selfdoenaksies in hul dorpe geloods.

Die organisasie het die afgelope naweek in samewerking met Amandri Tuindienste die bebosde ruimte op die hoek van Trichardt- en Cradockstraat in Kloofsig, Centurion, ontbos en skoongemaak.

Andrew Maden, ’n inwoner van die omgewing wie se huis grens aan die bebosde ruimte, het AfriForum se hulp ingeroep nadat sy talle oproepe en klagtes aan die munisipaliteit op dowe ore geval het. Hy sê die gebied is maande lank reeds ’n kopseer vir inwoners en ’n veiligheids- en gesondheidsrisiko vir die area.

Maden verduidelik dat die bosse ’n skuilplek vir hawelose mense geword het en vol rommel en menslike afval is. Die gebied is ook vol handsakke en sleutels wat deur kapers weggegooi is.

Benewens dit het hy ook sowat drie maande terug ’n waterlek in die gebied gevind en die munisipaliteit daaroor in kennis gestel. “Die munisipaliteit het mense uitgestuur maar hulle het gesê hulle is nie seker wie se verantwoordelikheid dit is om die pype te herstel nie en ons het tot vandag toe nie weer terugvoer oor die saak gekry nie. Terwyl hulle sloer, word skoon drinkwater gemors.”

Hy hoop ook dat die gemeenskap die werk wat AfriForum doen, sal raaksien.

“Ek dink dit is fantasties dat AfriForum so vinnig ingetree het. Ek dink die toekoms is dat ons maar self dinge moet aanpak. As ons gaan sit en wag vir iemand anders om dit te doen gaan sekere dinge nooit verbeter nie.”

“Hierdie was ʼn uitstekende aksie wat die krag van samewerking in ʼn gemeenskap ten toon stel. Saam kan ons positiewe verandering teweegbring,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

Die AfriForum-tak in Vryburg het ook aan die werk gespring en in samewerking met Working on Fire-werkers (WOF) die plaaslike konsentrasiekampbegraafplaas en -park skoongemaak en drie bome daar geplant. Die WOF-werkers is deel van ’n staatsprojek vir die bestryding van brande, wat ook voorkomende werk insluit.

Die gras in die park was só lank dat besoekers se toegang tot die park heeltemal belemmer is. Mnr Cecil Doyle, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak se omgewingsakeportefeulje, het die skoonmaakaksie gereël en die span van brandstof en toerusting voorsien sodat die gras gesny kon word.

Soortgelyke plasings