Spyskaart +

AfriForum se omvattende strategie vir reg en geregtigheid

Augustus 28, 2017 deur Flip Buys

AfriForum bedryf landswyd honderde projekte deur middel van ’n netwerk van voltydse personeellede en 150 takke. Dié projekte behels onder meer die uitbou van meer as ’n honderd buurtwagte om veiligheid te verbeter en plase te help beskerm, die verbetering van dorpsdienste, hofsake teen korrupsie, veldtogte om die wêreld bewus te maak van wanadministrasie en rassewette, die bevordering van Afrikaans en Afrikaner-erfenisse, asook hulp aan studente wat onder vyandige universiteitsbesture deurloop.

Daarbenewens is AfriForum al lank by die onreg teen boere in Zimbabwe betrokke en het al sake gewen wat die organisasie in staat gestel het om op die Mugabe-regering se eiendom beslag te lê en te verkoop om die boere se regskostes te delg. Ons het selfs ’n grondwetlike hofsaak hierteen gewen. AfriForum het ook sewe jaar gelede ’n suksesvolle veldtog geloods om Nestlé te oorreed het om nie melk te koop van ’n plaas wat deur Grace Mugabe gesteel is nie. Die doel hiermee en van ander hulp aan Zimbabwiese boere was nie net om ’n verdrukte minderheid met internasionale regsake en mediadruk te help, maar ook om daardeur te help keer dat dieselfde in Suid-Afrika gebeur.

 

Die saak teen Grace Mugabe vorm egter ’n klein onderdeel van ons groter stryd vir reg en geregtigheid.

Doelwitte met die Mugabe-saak

AfriForum het verskeie doelwitte met die saak teen Grace Mugabe:

  • Ons bring eerstens die despotiese Zimbabwe-regering se wanpraktyke internasionaal aan die lig.
  • Tweedens ontmasker ons saak die ANC se skandalige verhouding met die Mugabé-regime.
  • Derdens gee ons saak die onderdrukte Zimbabwiërs hoop en moed.
  • Vierdens versterk ons saak die regsorde omdat dit die roekelose optrede van die regering aan die kaak stel en dit vir hulle al moeiliker maak om te doen wat hulle wil.
  • As ons die saak wen, sal Grace Mugabe en ander diktators nie weer in Suid-Afrika toegelaat word nie en gaan ons ook ander lande versoek om haar toegang te weier.
  • Ons wys ook vir Mugabe-namakers in Suid-Afrika dat hulle voor die hof en die wêreldmedia vir hul wetteloosheid verantwoordelik gehou sal word.
  • Die saak verhoog AfriForum se vermoë om talle ander sake aan te pak omdat ons soveel makliker skikkingsversoeke kry as korrupte politici weet dat ons ons sake deurvoer.
  • Met dié saak help Kallie Kriel en sy span AfriForum se lede soveel meer deur ’n groter rolspeler te word wat korrupte diktators aanvat.
  • Die buitelandse aandag wat hierdie saak geniet, bied aan AfriForum die kans om terselfdertyd die ander sake wat ons lede raak aan die groot klok te hang. Die ANC het vroeër meer met buitelandse druk bereik as met enige ander strugglestrategie.
  • AfriForum gaan voort om honderde ander projekte en sake namens ons lede te voer, en dié saak vorm ’n klein onderdeel van die groter strategie vir reg en geregtigheid.

Dié saak onderstreep die belangrikheid daarvan om AfriForum en die hele Solidariteit Beweging se strategie in geheel te beoordeel – en nie volgens ’n enkele saak of projek nie. Die omstandighede in ons land raak al hoe moeiliker en ons planne sal daarby moet aanpas. Sukses vereis dat ons planne groter as die probleme is, en dat dit vinnig en doeltreffend uitgevoer word.

Flip Buys

Voorsitter: AfriForum en Solidariteit Beweging