AfriForum se noordstreek-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel


AfriForum se noordstreek-buurtwagte (Gauteng, Limpopo en Mpumalanga) het op 17 Mei 2019 in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), gemeenskapslede, verskeie sekuriteits­maatskappye en veiligheidsinstansies AfriForum se nasionale patrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer. Dié aksie – om polisiëringsigbaarheid op te skerp – het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 52 buurtwagte met 1 684 patrolleerders het in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga aan die patrollie deelgeneem en 42 246 km in 841 voertuie afgelê.
Die doel van hierdie nasionale patrollie is om sigbaarheid op nasionale vlak te verhoog en terselfdertyd samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies te verbeter. Dit is ook ’n gulde geleentheid om kommunikasie op ’n nasionale vlak op AfriForum se nasionale radionetwerk in te oefen.

“AfriForum-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies uitvoer om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Die krag lê juis in ’n gemeenskap wat saamstaan. AfriForum doen daarom ’n beroep op alle gemeenskapslede om by plaaslike veiligheidsinstansies betrokke te raak om die gemeenskap se weerbaarheid te verbeter,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings