AfriForum se Moot-tak skep ’n veiliger omgewing


Die burgerregtewaghond AfriForum se buurtwag in die Pretoriase Moot doen weekliks misdaadvoorkomingspatrollies op verskillende dae en tye om onder meer hul sigbaarheid in dié gebied te verhoog.

Elke patrollie duur ongeveer twee tot vier ure en word deur die buurtwag se nagenoeg 70 lede behartig. “Ons wil soveel lede as moontlik by die buurtwag betrek sodat patrollies meer gereeld kan plaasvind en sodat meer lede beskikbaar is om by ander AfriForum-projekte in die gebied betrek te word,” sê Thinus Erasmus, voorsitter van die gemeenskapsveiligheidsportefeulje van AfriForum se Moot-tak.
“Ons glo dat gereelde patrollies daartoe bydra om misdaad in die gebied te verminder en om op só ’n manier die buurt vir die inwoners te beveilig. Die feit dat die buurtwaglede tweerigtingradio’s gebruik om met mekaar te kommunikeer, asook dat hulle oor ’n goeie versterker beskik, maak die interaksie tussen buurtwaglede selfs méér effektief. Die gebied wat deur hierdie AfriForum-buurtwag gepatrolleer word, sluit Wonderboom-Suid, Rietfontein, Gezina, Riviera en Rietondale in,” sê Erasmus.

Die plaaslike gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Moot-tak betrokke te raak: SMS “Moot” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings