|

AfriForum se Moot-tak rig tweede noodwaterpunt op vir volhoubare waterprojek

AfriForum se Moot-tak het op 22 Maart 2020 hulle tweede noodwaterpunt by die Innesdale-ontspanningsklub in Rietfontein, Pretoria amptelik bekend gestel. Dié projek het sy ontstaan te danke aan die feit dat die Tshwane-metro meer gereeld waterbeperkings in die omgewing instel en die gemeenskap se toegang tot lopende water inkort. Dus het die tak ’n volhoubaarheidsprojek van stapel gestuur om water aan die gemeenskap te verskaf in tye van nood.

Die waterpunt het ’n 5 000 liter-tenk wat met boorgatwater volgemaak word en is beskikbaar vir die gemeenskap wanneer daar watertekorte is. Hierdie water kan dan aangewend word vir onder meer huishoudelike gebruik.

“Die sukses en volhoubaarheid van die projek maak staat op die gemeenskap se betrokkenheid. Ons doen ’n beroep op die Moot-gemeenskap om AfriForum se Moot-tak te kontak indien hul ’n bydrae kan lewer. Veral mense met toegang tot boorgatwater kan in noodsituasies ’n groot bydrae maak om ons te help,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die tak beoog om ten minste vier sulke waterpunte voor die einde van die jaar op te rig. SMS “AfriForum se Moot-tak” na 45341 (R1) indien jy betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings