|

AfriForum se Moot-buurtwag hou statiese patrollie om alkoholmisbruik in die openbaar hok te slaan

AfriForum se Moot-buurtwag het in samewerking met die Riviera Huiseienaars-, Inwoners- en Besigheidsorganisasie (Rhibo) verlede week daagliks ’n statiese patrollie op die hoek van Annie Bothalaan en Viljoenstraat in Riviera gehou. Dié patrollies is gehou om sigbaarheid te verhoog en mense te ontmoedig om alkohol in die openbaar te gebruik.

Die buurtwag het besluit om dié aksie aan te pak ná menige klagte hieroor van die gemeenskap ontvang is.

Volgens Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-buurtwag, is die aksie aangepak om die area skoon te hou en onwettige bedrywighede stop te sit. “Dit is onwettig om alkohol op straat te gebruik. Ons verwag van die polisie om hul werk te doen en die mense te arresteer. Mense sit en drink langs die pad, loop oor die straat sonder om te kyk en urineer in die oopte ten aanskoue van ander mense wat ook hier loop. Dit maak dit onaangenaam vir ons as gemeenskap wat hier moet bly.”

Schultz voeg by dat dit boonop ander probleme in die omgewing veroorsaak, wat ’n negatiewe invloed op die gemeenskap se veiligheid en welstand het. “Ons gaan hierdie probleme nie meer duld nie en wil dit hokslaan. Ons sal in samewerking met die polisie met patrollies en sigbaarheidsaksies aanhou om misdadigers die omgewing te ontsê.”

Schultz nooi gemeenskapslede uit om by die buurtwag betrokke te raak en sê dat hierdie slegs een van vele veiligheidsaksies is wat hulle gaan aanpak.

Raak vandag nog aktief by dié buurtwag betrokke: SMS “Moot” na 45341 (R1) en dra by tot die positiewe verskil.

Soortgelyke plasings