| |

AfriForum se Mooirivier-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

Die AfriForum-buurtwagte in Sasolburg, Potchefstroom, Stilfontein, Orkney, Ventersdorp en Wolmaransstad, asook Ellaton en Hartbeesfontein se plaas- en dorpswag het op 13 Maart 2020 aan dié organisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is tussen 18:00 en 06:00 in samewerking met die polisie, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies in die onderskeie dorpe uitgevoer.

Die Mooirivier-buurtwagte se betrokkenheid by die nasionale patrollie was ’n reusesukses. Altesaam 336 patrolleerders het 5 114 km in 283 voertuie afgelê. Meer as 41 voorvalle is tydens die patrollie hanteer, wat onder meer huishoudelike geweld, poging tot verkragting, poging tot veediefstal en ander noodgevalle ingesluit het.

“Die Mooirivier-buurtwagte sal aanhou om veiligheidskwessies in dorpe op te los en sigbaarheid in die streek te verbeter. Veiligheid raak toenemend belangrik in elke gemeenskap en die AfriForum-takke neem dit baie ernstig op. Met goeie samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD en ander rolspelers kan ons gemeenskappe se veiligheid verseker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en ‑buurtwag betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481/45351 (R1).

Soortgelyke plasings