AfriForum se Middelburg-tak oorhandig wenslys aan munisipaliteit


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Middelburg-tak het op 14 Februarie 2017 ’n wenslys aan mnr. Mandla Mnguni, bestuurder van die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig.
Dít volg nadat die tak verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat tot op hede nog nie deur die munisipaliteit in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek is nie.

“AfriForum wil die publiek aanmoedig om enige dorpsprobleme by die munisipaliteit aan te meld. Dit is belangrik om op ’n verwysingsnommer aan te dring. Indien ’n probleem nie opgelos word nie, kan lede die tak se noodnommer by 076 634 6780 kontak,” sê Johan de Beer, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
“Watertekorte is tans een van die grootste probleme in die gebied. AfriForum moedig die gemeenskap aan om water te bespaar, aangesien die Krugerdam se watervlak tans op net 46% staan. Ons beplan ook om binnekort ondersoek in te stel na die beweerde impak van myne in die omgewing wat watervloei na die dam beperk,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“AfriForum wil gemeenskapslede aanmoedig om by die opstelproses van die munisipaliteit se GOP betrokke te raak,” voeg Johan De Beer, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak, by.

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak deur jou naam na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings