AfriForum se Middelburg-tak herstel heliblad


AfriForum se Middelburg-tak het op Saterdag 8 September die heliblad by die plaaslike hospitaal begin herstel.
Daar was nie meer gepaste landingsareas nie en mediese- en nooddienspersoneel moes voortdurend alternatiewe landingsareas soek vir noodhelikopters om te land. Daarom is besluit om die landingsarea in fases op te gradeer. Die eerste fase was om die platform skoon te maak en daarna sal die verf op die platform oorgedoen word en dan sal die landingsliggies vervang word.

“Ons het al die bossies uitgekap en verwyder en gif oor die platform gespuit om te voorkom dat bossies weer groei. Dit dien as voorbereiding vir die volgende aksie, waar die platform oorgeverf sal word,” sê Mathee van Wyk, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
“Sekondes kan die verskil tussen lewe en dood beteken en daarom moet pasiënte so spoedig moontlik by ’n hospitaal uitkom. Die veiligheid van gemeenskappe is vir AfriForum belangrik en daarom het ons besluit om dié aksie van stapel te stuur,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga-Oos.

Soortgelyke plasings