AfriForum se Meyerspark-buurtwag trek verdagte vas


Tydens ’n patrollie op 11 Oktober 2018 is die Meyerspark-buurtwag deur ’n AfriForum-lid gekontak nadat dié lid ’n betreder in sy erf betrap het. Die verdagte het probeer vlug en in die proses ’n ander persoon in die straat aangerand. Patrollievoertuie het betyds by die toneel opgedaag en kon daarin slaag om die verdagte vas te trek, waarna die SAPD ontbied is.

Die verdagte was besig om gereedskap te steel toe hy deur sy werkgewer betrap is. Die verdagte en werkgewer het handgemeen geraak en in sy poging om op die vlug te slaan is die verdagte in die lid se erf opgemerk. Die werkgewer is inderhaas vir bytmerke behandel.

“Ek wil graag ons lede vir hul onbaatsugtige optrede bedank, asook die buurtwag vir hul spoedige reaksie,” sê André Badenhorst, voorsitter van AfriForum se Meyerspark-tak.

Die verdagte se werkgewer het intussen klagtes van diefstal en aanranding teen hom ingedien en die AfriForum-lid ’n klagte van onwettige betreding.

“Hierdie saak is ’n uitstekende voorbeeld van ’n goed georganiseerde buurtwag wat vinnig reageer en daarin slaag om die gemeenskap van Meyerspark te beveilig,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak deur “Meyerspark” na 45341 te SMS (R1) of ’n e-pos te stuur na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings