|

AfriForum se Meyerspark-buurtwag trek huisrower vas

Lede van AfriForum se Meyerspark-buurtwag het op 15 Augustus 2019 ’n verdagte in samewerking met die Tshwane-metropolisie en die SAPD vasgetrek. Dít volg nadat ’n lid van die gemeenskap die buurtwag daarvan in kennis gestel het dat verskeie verdagtes besig was om by iemand se motorhuis in te breek. Die buurtwag en ’n metropolisiebeampte het onmiddellik gereageer.

Die verdagtes het verskeie items gesteel, terwyl ’n grassnyer, ’n kragopwekker en tuingereedskap ook bymekaar gemaak is om weg te ry. Tydens die wegdra van die grassnyer is een van die verdagtes gewaar, waarna hy die grassnyer oor die muur probeer gooi het. Alarm is gemaak en die verdagtes het op die vlug geslaan, waarna die buurtwag en metropolisie een verdagte vasgetrek het. Die SAPD is ontbied en die verdagte is gearresteer.

Alice Cory, voorsitter van AfriForum se Meyerspark-buurtwag, het gemeenskapslede bedank vir hul paraatheid en meen die suksesvolle arrestasie kan toegeskryf word aan goeie samewerking tussen die buurtwag, die gemeenskap en die SAPD. “Dit is ’n groot sukses vir ons buurtwag en die gemeenskap dat die verdagte gearresteer is. Ons buurtwag sal aanhou om die stryd teen misdaad te veg en moedig die gemeenskap aan om ons by te staan.”

Raak vandag nog by AfriForum se Meyerspark-buurtwag betrokke: Stuur ’n e-pos aan Cory by accmed35@gmail.com of SMS jou naam na 45341 (R1).

 

Soortgelyke plasings