AfriForum se Meyerspark-buurtwag neem deel aan gesamentlike patrollie


AfriForum se Meyerspark-buurtwag het die afgelope naweek in samewerking met die Silverton Polisiestasie, Brinant Security Services en lede van die Silverton uitbreiding 5‑veiligheidsgroep ’n suksesvolle massapatrollie gedoen.
Altesaam 46 mense en 30 voertuie het aan die massapatrollie deelgeneem. Die AfriForum-buurtwag het die radio’s en kommunikasienetwerk voorsien.

“AfriForum is dankbaar vir elke persoon wat sy tyd opoffer om ’n verskil te maak. Saam kan ons misdaad beveg,” sê André Badenhorst, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Meyerspark-tak.
“Dit is belangrik dat ’n gemeenskap saam werk eerder as wat ’n klomp instansies bestaan wat afsonderlik probeer om misdaad te bekamp,” sê Lambert de Klerk, streekskoördineer vir AfriForum in Gauteng.

De Klerk voeg by dat dié patrollie op misdaadvoorkoming en die sigbaarheid van veiligheidstrukture gemik was.

“Ons sal voortdurend nuwe projekte in samewerking met die polisie aanpak om misdaad hok te slaan,” sluit De Klerk af.

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van die Tshwane Metro om by plaaslike takke betrokke te raak en deel te neem aan die aktiwiteite van die buurtwagte.

Soortgelyke plasings