|

AfriForum se Matzikama-buurt- en -plaaswagte neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurt- en plaaswagte in Koekenaap, Kleinrivier, Lutzville, Vredendal, Nuwerus, Trawal en Spruitdrift in die Matzikama-gebied het op 13 en 14 Maart 2020 aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Dié patrollie is van 16:00 tot 06:00 in samewerking met die SAPD en die provinsiale verkeersdepartement uitgevoer.

Die Matzikama-buurt-en -plaaswagte se betrokkenheid by die nasionale patrollie was ’n reusesukses. Altesaam 103 patrolleerders het 2 855 km in 73 voertuie afgelê. Geen voorvalle is aangemeld nie, maar tydens ’n padblokkade wat die SAPD en verkeersdepartement gehou het, is 57 motors afgetrek en 11 verkeersboetes uitgereik.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. Die veiligheid van ons lede en gemeenskappe is van uiterste belang. AfriForum wil graag alle rolspelers bedank wat tot die suksesvolle uitvoer van die nasionale patrollie bygedra het,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak vandag nog by een van AfriForum se plaas- of buurtwagte in die Matzikama-gebied betrokke – jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Veilig” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings