| | |

AfriForum se Marico-buurtwagte neem aan nasionale versetpatrollie deel

AfriForum se Marico-buurtwagte het op 6 Junie 2020 aan die burgerregteorganisasie se nasionale versetpatrollie deelgeneem. Dié massapatrollie vorm deel van die amptelike aktivering van AfriForum se buurtwagte wat hul bedrywighede weer tydens vlak 3 van die inperking mag hervat. Die patrollie is in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede gehou, wat gehelp het om sigbaarheid in hul onderskeie dorpe te verhoog.

Altesaam 98 gemeenskapslede het aan die patrollie deelgeneem en 1 768 km is in 72 voertuie afgelê. Al die deelnemers het streng voldoen aan die vereiste regulasies en binne die raamwerk van die wet opgetree. Veiligheidstrukture en -instansies in Rustenburg, Brits, Mooinooi, Zeerust en Coligny het aan die versetpatrollie deelgeneem.

Gemeenskapslede en buurtwagte kan met patrollies voortgaan aangesien regulasie 33 (1), wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, op 28 Mei 2020 uitgevaardig het, dit duidelik stel dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer, met uitsondering van aktiwiteite soos uiteengesit in tabel 2 van dié regulasies. Buurt- en plaaswagte word nie in dié tabel genoem nie en kan dus weer patrolleer.

“Dit is vir AfriForum uiters belangrik om voort te kan gaan met sigbaarheidspatrollies om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker. Goeie samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat veiligheidsinstansies lei tot suksesvolle misdaadbekamping,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Raak by enige veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing. SMS jou naam na 45351 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings