| | |

AfriForum se Marble Hall-tak ontsmet laerskool

Die AfriForum-tak in Marble Hall het Laerskool Marble Hall op 23 Mei 2020 met ongeveer 1 100 liter ontsmettingsmiddel skoongemaak om dié skool op heropening voor te berei.

Die tak het die buurtwag en die jeugvleuel ingespan om te help en die skool is met ses rugsakspuite en ’n trekker ontsmet. Dit het die span twee uur geneem om die terrein, klaskamers, badkamers, saal en personeelkamer te ontsmet.

Die tak het aan die laerskool, ouetehuis en CVO-skole in Marble Hall en Groblersdal ontsmettingsmiddels voorsien sodat hulle terreine deurlopend ontsmet kan word.

“Dit is soms nodig dat die gemeenskap self inspring om take soos dié te verrig om ’n verskil te maak. AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe te ondersteun om die verspreiding van COVID-19 te help voorkom,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“Ek wil die AfriForum-tak en -buurtwag van Marble Hall bedank vir dié goeie gebaar,” sê Mof Coetzer, hoof van Laerskool Marble Hall.

Raak by AfriForum se Marble Hall-tak betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings