AfriForum se Marble Hall-buurtwag keer plaasaanvaller in samewerking met HPG aan


AfriForum se Marble Hall-buurtwag het op Donderdag 9 Mei 2019 in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG) twee verdagtes vasgetrek. Een van die verdagtes was vermoedelik by ’n plaasaanval in die omgewing betrokke nadat ’n vuurwapen wat tydens die aanval gesteel is, in sy besit gevind is.

Die boer, wie se naam weens veiligheidsredes weerhou word, is erg tydens dié plaasaanval in April vanjaar aangerand en daar is op sy gesin geskiet. Die plaasaanvallers het onder meer vuurwapens geroof, waarvan een nou teruggevind is.
Die arrestasies het gevolg nadat inligting ingewin is en die AfriForum-buurtwag, HPG en polisie ’n goed beplande klopjag uitgevoer het. Gesteelde goedere, wat vermoedelik tydens ander plaasaanvalle en huisbrake gebuit is, is ook teruggevind.

Volgens Bertus Homan, AfriForum se veiligheidsvoorsitter van die Marble Hall-tak, is hierdie ’n goeie voorbeeld van wat bereik kan word as gemeenskapsveiligheidsorganisasies goed saam werk om die gemeenskap by te staan en om ’n gesamentlike doelwit te bereik. “Dit is vir ons as buurtwag uiters belangrik om saam met ander organisasies en die polisie te werk om ons gemeenskap te beveilig. Ons kan duidelik ’n groot verskil sien waar ons saam staan en mekaar ondersteun. Ons sal verantwoordelikheid vat vir ons eie veiligheid en om ons mense te beskerm,” sê Homan.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se assistentveiligheidskoördineerder van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek, moedig mense aan om betrokke te raak by veiligheidstrukture in hul omgewings sodat dié strukture uitgebrei kan word.

“Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer suksesse kan bereik word. Op hierdie manier kan ons ’n vry en veilige toekoms vir ons gemeenskappe bewerkstellig,” sê Hemmens.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Marble Hall” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings